GLENTANA NUUS - NG Outeniqualand hou weer hul jaarlikse tradisionele Glentana Somerbasaar op Donderdag, 21 Desember. Die basaar begin in die oggend en sal tot die middag duur.
Dit vind plaas op die terrein van die Glentana-kerksaal, ook bekend as die Kobus Hattingh-saal. Volg die ou pad tussen Groot-Brakrivier en Glentana en draai af uit Morrisonweg in Oude- of Hoogekraalweg en volg die aanwysigings, net agter Glentana se hoofstrand.
Soos altyd is daar ligte etes soos kerrie en rys, worsbroodjies, vetkoeke en roosterkoeke. Braaivleis en ’n visbraai is ook beskikbaar. Lekkernye sluit in koeke, terte, poedings en pannekoeke. Daar word ook kontreikos, groente, "witolifante", geskenke en rou vleis verkoop. Pret vir die jongspan sluit in springkastele, kettieskiet en tombola.
Die hele gemeenskap word genooi om te kom saamkuier onder die pragtige skadubome en om ‘n koppie koffie, 'n yskoue bier of glasie wyn te kom drink, terwyl hulle luister na vrolike musiek.
Vir enige navrae, skakel ds Japie Beyers by 082 787 7843 of vir Henk Vosloo by 083 252 6676.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'